Die gemeente Graaff-Reinet is gestig op 11
November 1792 en die eerste kerkgebou was
vermoedelik laer af
in Kerkstraat - heel waarskynlik
was dit die oorspronklike plaashuis van Dirk
Coetzee. Ds Johan von Manger was die eerste leraar -
hy het ongelukkig nie notules gehou nie. Sy opvolger
in 1798, ds HW Ballot, het deeglik notules gehou
waarvan die eerste een van 8 Julie 1798 deur MW
Pretorius (vader van die bekende Voortrekkerleier
Andries Pretorius) onderteken is. Hierdie eerste
gebou het in 1799 afgebrand.
Ds Andrew Murray
word deur dr George Thom van die Londense
Sendinggenootskap na Suid-Afrika genooi. Dit was op
versoek van Goewerneur Lord Charles Somerset dat
predikante na Suid-Afrika genooi moes word om die
wydverspreide bevolking op die platteland te bedien.
Die tweede gebou is voltooi in
September 1800 op die huidige perseel waar die
Grootkerk staan. Na die aankoms van ds Andrew Murray
in 1822 is daar dadelik begin met die oprigting van
die derde kerkgebou. Die vorige een is geheel
gesloop en dienste is in die opelug en op plase
gehou. Hierdie gebou (die derde een) is in 1823
voltooi. Die gebou met sy strooidak, statige gewels,
kloktoring en ringmuur het die gemeenskap vir 60
jaar bedien.
Ds Andrew Murray is
vir tien maande voor sy koms Holland toe om
Nederlands aan te leer. Hy trou dan ook kort voor sy
aankoms in Suid-Afrika met Maria Susanna Stegman. Hy
was baie gelukkig in sy nuwe vaderland en het
homself aan sy nuwe werk en mense gewy met soveel
onbaatsugtige toewyding dat hy 'n noodsaaklike deel
van hul lewens geword het. Hy en sy seun (wat hom
opgevolg het), ds Charles Murray, het saam 82 jaar
diens aan die gemeenskap gelewer! Hulle was gashere
vir baie besoekers aan Graaff-Reinet soos onder
andere Moffat, Livingstone en Broadbent wat by hulle
aan huis vertoef het.
Ds Charles Murray het
groot belangstelling in tuinbou gehad en dit is hy
wat in 1870 die beroemde swart-eik druiwestok agter
sy pastorie - die huidige Reinethuis - geplant het.
Hy was die eerste Graaff-Reinetter wat predikant
hier geword het.
Die
huidige kerkgebou is gedurende ds Charles Murray se
bedieningstyd opgerig. Met die landswye herlewing in
die laaste helfte van die 1800's asook die groei in
die gemeenskap, het die bestaande gebou te klein
geword. Daar is toe besluit om die bestaande gebou
af te breek en een te bou wat groot genoeg sou wees
om die mense te huisves - vandaar die bynaam
"Grootkerk".
Dit is in die Neo-Gotiese
boustyl gebou. Die Kaapse argitek J. Bisset het dit
ontwerp met aspekte van die Salisbury Katedraal in
Engeland in gedagte; die boukontrakteurs was Grant &
Downie. Die koste van die materiaal is laag gehou,
want die gemeenskap het die klippe en vervoer
voorsien. Die totale koste was R31 600 plus 'n
verdere R2 460 vir die ringmuur. Die toring is 45.72
meter hoog en die klok in die toring weeg 'n reuse 1
720 pond (781 kg). Die klok het lank gedien as
amptelike tydaanwyser vir die gemeenskap. Die kerk
bied sitplek aan 1 500 mense. Die vensters is van
loodglas en die deure van soliede kiaathout - so ook
die indrukwekkende preekstoel. Die banke is van
Amerikaanse Greinhout gemaak. Tot 1941 moes
gemeentelede hulle sitplekke huur teen ongeveer 50
sent - 75 sent per jaar. Die gebou is op 21 Maart
1975 as 'n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.
Met die hoeksteenlegging van die kerk op 12
April 1886 was dit die vierde gebou van hierdie
gemeente wat toe reeds amper 100 jaar bestaan het.
Die hoeksteen is deur ds Andrew Murray se weduwee
gelê en daar word uit 1 Petrus 2:5 voorgelees.
Muntstukke en geskiedenis van die vorige kerkgeboue
word onder die hoeksteen vasgemessel. Dis jammer dat
ds Andrew Murray nie die huidige kerkgebou kon
beleef nie.
Die inwyding vind plaas op 10 en 11 September 1887.
Prof de Vos van Stellenbosch lewer die
inwydingspreek. Vrouens moes die kerk van die
sykante af binnekom en geen kinders is toegelaat
nie. Daar was omtrent 2000 mense teenwoordig.
Veertien leraars is uitgenooi en 8 preke is gelewer.
Daar was ook 'n pragtige koorprogram onder leiding
van Fraulein Bau, die eerste orreliste. Werke van
onder andere Haydn, Mendelssohn en Spohr word
aangebied. Tydens ds Andrew se bediening het
georganiseerde musiek nie baie aandag gekry nie. Die
Sondagskool en kerkmusiek was egter vir ds Charles
van groot belang. Die indrukwekkende huidige orrel
is op 17 Februarie 1894 ingewy.
Ds Charles
gee baie aandag aan die kinders. Daar was op 'n
stadium 600 kinders in die Sondagskool! Sy suster,
Helen, verwys as volg na hom: "To him education was
not merely die cultivation of the intellect, but an
all-round character building and development of the
Spiritual and moral nature of the child, quite as
much as the training of the mind."
Baie ander
bekende predikante het die gemeente bedien: daar was
bv. dr DF Malan (voormalige Eersteminister); AB Keet
(Bybelvertaler); PK Albertyn (eerste preek in
Afrikaans gelewer) en Joshua Naude (veldprediker van
Gnl. Koos de la Rey tydens die Anglo Boereoorlog en
vader van die bekende Beyers Naude) was vanaf 1921
to 1948 hier predikant.
As ons vandag na die
Grootkerk kyk, is daar so baie om oor dankbaar en
nederig te voel. Die imposante struktuur en gemeente
is simbolies van wat die mens in die eens
onherbergsame dorre Karoo met die hulp van hul
Hemelse Vader bereik het.